Skielik sit daar ‘n lewensgrootte knop in my keel.
Die radio was vanoggend saggies in die agtergrond aan om net die stilte in die kar te breek. (Wat op sigself redelik on-Renate-rig is want ek verkies die heiligheid van stilte… ek is enige klooster se droom.)
Miskien is dit die konstante pyn in my regterknie na ek gister met ‘n voortvarende rankplant in die tuin gestoei het, of miskien is dit vanoggend se stiltetyd.
Soos ek Renbaanweg oorsteek word ek gekonfronteer met die lirieke van ‘n immergroen Afrikaanse lied wat ek as kind probeer vermy het. Maar van iewers kry ek krag om die protesterende 9-jarige self stil te maak en aandagtig te luister.
Elke woord hang nou swaar in die kar en dit is asof die betekenis van hierdie lied vir die eerste keer vir my oopbreek:
𝘿𝙖𝙖𝙧′𝙨 ‘𝙣 𝙥𝙖𝙧𝙠 𝙞𝙣 𝙢𝙮 𝙩𝙪𝙞𝙨𝙙𝙤𝙧𝙥 𝙫𝙚𝙧 𝙬𝙚𝙜 𝙫𝙖𝙣 𝙙𝙞𝙚 𝙨𝙩𝙖𝙙 𝙨𝙚 𝙡𝙖𝙬𝙖𝙖𝙞
𝙒𝙖𝙖𝙧 𝙙𝙞𝙚 𝙠𝙞𝙣𝙙𝙚𝙧𝙨 𝙣𝙖 𝙨𝙠𝙤𝙤𝙡 𝙞𝙣 𝙙𝙞𝙚 𝙢𝙞𝙙𝙙𝙖𝙚 𝙠𝙤𝙢 𝙨𝙥𝙚𝙚𝙡 𝙚𝙣 𝙗𝙖𝙡𝙟𝙖𝙖𝙧
𝙀𝙣 𝙚𝙚𝙣𝙙𝙖𝙜 𝙨𝙞𝙚𝙣 𝙚𝙠 ′𝙣 𝙠𝙡𝙚𝙞𝙣 𝙙𝙤𝙜𝙩𝙚𝙧𝙩𝙟𝙞𝙚 𝙚𝙚𝙣𝙠𝙖𝙣𝙩 𝙖𝙡𝙡𝙚𝙚𝙣
𝙈𝙚𝙩 𝙩𝙧𝙖𝙖𝙣𝙩𝙟𝙞𝙚𝙨 𝙬𝙖𝙩 𝙧𝙤𝙡 𝙤𝙤𝙧 𝙝𝙖𝙖𝙧 𝙨𝙥𝙧𝙤𝙚𝙩 𝙜𝙚𝙨𝙞𝙜𝙜𝙞𝙚 𝙝𝙚𝙚𝙣
𝙀𝙣 𝙚𝙠 𝙨𝙚: “𝙎𝙥𝙧𝙤𝙚𝙩𝙟𝙞𝙚𝙨, 𝙡𝙞𝙚𝙛𝙡𝙞𝙣𝙜, 𝙙𝙖𝙖𝙧’𝙨 ‘𝙣 𝙧𝙚𝙚𝙣𝙗𝙤𝙤𝙜 𝙞𝙣 𝙟𝙤𝙪 𝙤𝙚
𝙒𝙞𝙡 𝙟𝙮 𝙜𝙧𝙖𝙖𝙜 ′𝙣 𝙜𝙧𝙤𝙤𝙩 𝙜𝙚𝙝𝙚𝙞𝙢 𝙝𝙤𝙤𝙧?
𝘼𝙡𝙢𝙖𝙡 𝙬𝙞𝙡 𝙜𝙧𝙖𝙖𝙜 𝙨𝙤𝙤𝙨 𝙟𝙮 𝙬𝙚𝙚𝙨
𝙒𝙖𝙣𝙩 𝙟𝙮′𝙨 𝙥𝙧𝙖𝙜𝙩𝙞𝙜, 𝙡𝙞𝙚𝙛𝙡𝙞𝙣𝙜”
𝙀𝙣 𝙨𝙮 𝙙𝙧𝙪𝙠 𝙨𝙖𝙜𝙜𝙞𝙚𝙨 𝙢𝙮 𝙝𝙖𝙣𝙙
𝙀𝙣 𝙨𝙚: “𝙀𝙠 𝙬𝙚𝙣𝙨 𝙚𝙠 𝙠𝙤𝙣 𝙢𝙮 𝙙𝙚𝙪𝙧 𝙟𝙤𝙪 𝙤𝙚 𝙨𝙞𝙚𝙣”
Die laaste woorde bly maal in my kop…
“𝙀𝙣 𝙚𝙠 𝙬𝙚𝙣𝙨 𝙚𝙠 𝙠𝙤𝙣 𝙢𝙮 𝙙𝙚𝙪𝙧 𝙟𝙤𝙪 𝙤𝙚 𝙨𝙞𝙚𝙣”.
En soos hierdie woorde hartsnare in die dieper kamers roer onthou ek die volgende:
“‘𝙣 𝙂𝙚𝙨𝙞𝙜 𝙨𝙤𝙣𝙙𝙚𝙧 𝙨𝙥𝙧𝙤𝙚𝙩𝙚 𝙞𝙨 𝙨𝙤𝙤𝙨 ‘𝙣 𝙣𝙖𝙜 𝙨𝙤𝙣𝙙𝙚𝙧 𝙨𝙩𝙚𝙧𝙧𝙚.”
So het die bordjie gelees wat my ouers vir my as kind by ‘n kerkbasaar gekoop het. Alles in die hoop om hulle dogtertjie te troos maar die gedagte in my kop was altyd “hoekom moet die poppie op die bordjie so lelik lyk!?”.
Ek was as kind só sensitief oor my sproete dat ek toegelaat het dat dit my minderwaardig laat voel het. Dit het so ver gegaan dat ek selfs minder “vroulik” begin voel het. En ja, natuurlik ken ons almal boelies – wat is ‘n skool dan sonder ‘n trol of twee.
Maar die storie gaan nie oor my nie. Dit gaan ook eintlik nie oor sproete nie…
Dit gaan oor die manier waarop ons na onsself kyk en die verwronge beeld wat so teenstrydig is teenoor dit wat ander sien. Ons meet onsself aan ander en skiet dan altyd te kort. Te vet, te lomp, te saai, te dom, te onfiks, te lelik, te vervelig, te asosiaal, te stil, te oud… maar hoe sou ons reageer as ons onsself deur iemand anders se oë kon sien?
En dan kom ek by my stiltetyd uit. Lukas 11:
“𝗗𝗶𝗲 𝗹𝗮𝗺𝗽 𝘃𝗮𝗻 𝗱𝗶𝗲 𝗹𝗶𝗴𝗴𝗮𝗮𝗺 𝗶𝘀 𝗱𝗶𝗲 𝗼𝗼𝗴. 𝗔𝘀 𝗷𝗼𝘂 𝗼𝗼𝗴 𝗱𝗮𝗻 𝗿𝗲𝗴 𝗶𝘀, 𝗶𝘀 𝗷𝗼𝘂 𝗵𝗲𝗹𝗲 𝗹𝗶𝗴𝗴𝗮𝗮𝗺 𝗼𝗼𝗸 𝘃𝗲𝗿𝗹𝗶𝗴; 𝗺𝗮𝗮𝗿 𝗮𝘀 𝗱𝗶𝘁 𝘃𝗲𝗿𝗸𝗲𝗲𝗿𝗱 𝗶𝘀, 𝗶𝘀 𝗷𝗼𝘂 𝗹𝗶𝗴𝗴𝗮𝗮𝗺 𝗼𝗼𝗸 𝗱𝗼𝗻𝗸𝗲𝗿. 𝗣𝗮𝘀 𝗱𝗮𝗻 𝗼𝗽 𝗱𝗮𝘁 𝗱𝗶𝗲 𝗹𝗶𝗴 𝗶𝗻 𝗷𝗼𝘂 𝗻𝗶𝗲 𝗱𝘂𝗶𝘀𝘁𝗲𝗿𝗻𝗶𝘀 𝗶𝘀 𝗻𝗶𝗲.”
Ek het besef dat ons bewustelik moet wees teenoor dit wat ons toelaat om raak te sien.
Wat sien jy in die wêreld raak? Wat sien jy in ander raak? Wat hou jy jouself mee besig? Wat kies jy om in te neem? Wat sien jy in jouself raak? Wat sien jy in die Here raak?
En dan kom die belangrike vraag waaroor ‘n reuse skaduwee hang:
WIE steel die lig in jou oë?
En dan sien ek my grootste vyand raak…
En dit was al die tyd ek.
Die boelie in my binneste.
….
Mag ons leer om sagter te wees op onsself en op mekaar… mag ons ander se deurbrake vier. Mag ons ligter leef. En mag ons KIES om die mooi raak te sien. Dit wat rein is raak te sien. Dit wat Lofwaardig is.
En dit wat als eintlik diep gesetel is in die geheimenis van die Almagtige Vader.
Ek wil graag afsluit deur die lied se woorde bietjie te verander…
“En ek wens dat jy jouself deur Sy oë kan sien”.
Geskryf deur Renate Riedemann-Boshoff
