KLEIN-BEGIN MET GROOT GENADE

Haai, ek is Madeleine en die stigter van Gesalfde.

Almal het ‘n storie en deur stories met mekaar te deel maak ons die grond gelyk. Soms kyk ons na ander se lewens deur ‘n sosialemedia lens waar alles perfek vertoon terwyl die waarheid ver verwyderd van dit is.

In 2017 het iemand na aan my deur ‘n erge finansiële krisis gegaan. Ek het vir die Here gevra wat ek kan doen om ‘n ekstra inkomste te genereer om sodiende ook ander in nood daarmee te kan help. Dit is waar die naam Gesalfde op ‘n doodgewone dag by die werk net in my gees opgekom het. In die daaropvolgende weke het die res van die boublokkies uit verskeie oorde gekom asook in my stiltetye in die Woord waar salwing en olies die hele tyd uit verskillende stukke opgeduik het. Die finale woord wat alles saamgetrek en bevestig het was Hooglied 1:3 “U salf is aangenaam van geur, u Naam is soos salf wat uitgegiet is.”

Ek het ‘n ongekende opgewondheid in my begin ervaar en dadelik weggespring sonder dat ek ‘n idee gehad het hoe ek ‘n besigheid moet aanpak. Ek het byvoorbeeld niks geweet van ontwerp, verpakking of natuurlike olies nie. Ek het geleer soos ek aangaan. My eerste produkte was badsout en lyfskrop wat ek verpak het in Console glashouers met ‘n eenvoudige etiket op wat ek in “Word” ontwerp het (regtig!). My woonstelletjie was piepklein (so groot soos ‘n dubbele motorhuis) maar niks kon my opgewondenheid demp nie.

Die een produk het tot die volgende een gelei. Ontwerpe, verpakking en produkte het met tyd beter geword maar dit was glad nie winsgewend nie. Inteendeel, daar was dae wat ek werklik gewonder het hoekom ek dit steeds aanhou doen aangesien dit finansieël geen sin maak nie. Maar iets in my wou nie stop nie.

In Januarie 2020 het ek ‘n besigheidskool bygewoon waar ek ‘n paar uur voor die eerste sessie die woord gekry het in my persoonlike bybelstudie uit Sagaria 4:10 “Moenie die dag van klein dingetjies gering ag nie…” Net om dieselfde woord in die eerste sessie van opleiding te ontvang! Dit het my weer laat moed skep om aan te gaan maak nie saak hoe klein die tree is wat ek gee nie.

Later die jaar het ek deur ‘n diep donker vallei van pyn gegaan. Dit is in daardie tyd waar ek met myself en met die Here geworstel het met die vrae soos: “sal ek ooit goed genoeg wees?”, “sal ek ooit geliefd wees?” en “sal ek ooit gekies word?”. Vandag kan ek getuig dat die Here regtig ons trane opvang en ‘n nuwe lied in ons monde lê. Hy vat die seer en verander dit in vreugde. Hy maak ALLES nuut. Sy Woord is onwankelbaar. “Beauty from Ashes”.  My reeks olies het intussen uitgebrei na 10 woorde. ‘n Woord en geur vir elke vrou.

Ek het toe besluit om daardie 3 woorde geliefd, genoeg en gekies te vat en om lyfolie met skrif uit die Woord te maak. Juis omdat hierdie drie woorde vir myself en soveel ander rondom my ‘n bekende worsteling is, is die idee daaragter: smeer die woorde (Woord van God oor jou) tot jy dit glo.

Steeds was daar die gedagte dat my produkte nie goed genoeg is om te kompeteer met produkte op winkelrakke nie. Een oggend vroeg in Januarie toe ek weer my hart voor die Here uitstort het ek die volgende skrif uit Jeremia 1:7-10 gekry “Toe sê die Here vir my: Jy moenie sê: “Ek is te jonk” nie. Jy moet gaan na wie toe Ek jou ook al stuur, en alles wat Ek jou beveel om te sê, moet jy sê. Moenie vir hulle bang wees nie, want Ek is by jou, Ek sal jou red. Dit is wat die Here gesê het. Hy het sy hand uitgesteek, my mond aangeraak en vir my gesê: Ek het nou my woorde in jou mond gelê. Kyk, Ek stel jou vandag aan oor nasies en oor koninkryke om af te breek en uit te roei, om te vernietig en plat te slaan, te bou en te vestig.”

Ek het dadelik in geloof begin om die koninkryk van leuens af te breek en te begin om God se beloftes doelbewus oor Gesalfde uit te spreek, dit te bou en te vestig.
En God is so getrou! Van Februarie af het navrae letterlik begin instroom van verskillende winkels af, soveel so dat ek by tye sukkel om voor te bly. Vrouens stuur hulle stories oor hoe die woorde hulle raak en hoe die olie hulle seën. God se woord is werklik salf wat uitgegiet is met ‘n aangename geur.

Mag jy die droom wat vandag in jou hart is voor Hom gaan lê – Hy is ‘n waarmaker van Sy Woord.